Liedere en Musiek
FLAM (Jeugliedere)
FLAM, die taakspan van ADGO wat kontemporêre Afrikaanse kerkmusiek skep en versamel, is reeds sedert 2004 besig om nuwe kerkmusiek gratis aan gemeentes beskikbaar te stel.
Twee CD’s (‘Flam Vol. 1’ en ‘Roeping: Lof’) het reeds verskyn en in Februarie 2008 verskyn ‘n CD/DVD van Stass van Veuren (foto), ‘n dinamiese jong musikant, getiteld ‘Onbeskaamd’. Alhoewel dit nie amptelik ‘n FLAM CD is nie, is al die liedere op hierdie CD deur Flam goedgekeur. As jy dus opsoek is na vars, nuwe, oorspronklike Afrikaanse musiek vir jou jeugbediening is dit beslis ‘n CD wat jy op jou CD-rak sal wil hê.
Flam se vennoot, Maranatha, beoog ook om binnekort ‘n Flam CD met kinderliedere op te neem. Hou duim vas dat dit sommer gou sal verskyn.
‘n Ander nuutjie: CCLI het ‘n webdiens, SongSelect – gaan soek daarvoor by ccli.co.za - wat die bladmusiek van byna enige kontemporêre lied bevat. Musiekleiers kan die volledige bladmusiek of slegs die teks en akkoorde uitdruk, luister hoe die musiek behoort te klink én selfs die toonhoogte kies van die lied wat hulle wil gebruik. En die goeie nuus is dat die bladmusiek van Flam-liedere ook binnekort op die webtuiste beskikbaar sal wees!
Hou ook die pers dop vir JONK se LIVE MUSIEKFEES (29-31 Augustus) in Pretoria. Tydens die Dagfees sal gemeentes en jong opkomende komponiste kans kry om nuwe lof-en aanbiddingsmusiek ten toon te stel en tydens die Aandfees sal verskeie bekende kunstenaars optree.
As jy voel of jy in lof wil uitbars en jy soek nog die woorde en die akkoorde is www.flam.co.za die webtuiste om te besoek.
Kontak:
Ds Faani Engelbrecht
083 856 1951
faani@mweb.co.za
VONKK (Verdere Ontwikkeling Klassieke musiek)
ADGO het in 2007 die goedkeuring van die Algemene Sinode verkry om onder ADGO se Projekspan vir Musiek twee bene nl. FLAM en VONKK in die toekoms te laat funksioneer. Hierdie twee groepe sal verantwoordelikheid vir die ontwikkeling en bevordering van erediensmusiek aanvaar. FLAM (dit staan vir Funky Liedere vir ’n Aan-die-brand Musiek-bediening) neem verantwoordelik vir die ontwikkeling, versameling, keuring en beskikbaarstelling van kontemporêre musiek aan gemeentes. FLAM funksioneer alreeds vir 3 jaar en het al meer as 200 liedere in eietydse idioom op hulle webwerf beskikbaar vir gemeentes om te gebruik. Gemeentes moet egter vir die gebruik daarvan by Christian Copyright Licensing International registreer. Al die inligting hiervoor is op FLAM se webwerf www.flam.co.za beskikbaar.
VONKK
VONKK staan vir Voortgesette Ontwikkeling van Nuwe Klassieke Kerkmusiek. VONKK het vir die eerste keer aan die einde van 2007 bymekaargekom om hulle werksaamhede te begin organiseer. VONKK se doel is om die reeds bestaande klassieke liedereskat van die Liedboek, op ’n voortdurende basis uit te brei met nuwe eietydse liedere in die meer klassiek styl. Soos by FLAM sal nuwe liedere versamel, gekeur en aan gemeentes beskikbaar gestel word. Buiten die versameling van nuwe klassieke kerkliedere, is die ontwikkeling van eietydse liturgiese musiek in die plek van die ou koraalvoorspele en ook ‘n nuwe ontwikkeling van kantorymusiek (teenoor die tradisionele musiek vir kerkkore) op die tafel van VONKK. Daar word ook indringend gekyk na die moderne ontwikkeling van klassieke kerkmusiek wêreldwyd. Lidmate, musici en gemeentes is welkom om nuwe liedere in die klassieke styl wat in gemeentes ontstaan of geskep word, sowel as nuwe kantory- en liturgiese musiek aan VONKK te stuur by die volgende adres: Ds Jacques Louw, Posbus 3, Hoopstad 9479. Soos wat die nuwe musiek ontvang en gekeur word sal dit deur VONKK aan gemeentes beskikbaar gestel word.
OPLEIDING
Die ADGO Projekspan vir Musiek, bestaande uit FLAM en VONKK werk reeds saam om die belangrikheid van aanbidding in die erediens, veral deur middel van musiek by kerkrade en gemeentes op die tafel te sit, sodat hulle weer daaroor kan besin en nuut kan dink oor die sinvolheid en effektiwiteit daarvan in elke erediens. Binnekort sal elke gemeente ’n DVD ontvang wat saamgestel is deur die ADGO Projekspan vir Musiek in samewerking met Bybel-Media en wat ten doel het om ’n gesprek by kerkrade en gemeentes oor die musiek en sang in hulle eredienste en ook die diversiteit van spiritualiteite in hulle gemeentes oop te maak. Die gedagte is dan dat die DVD opgevolg sal word met herfs- en lenteskole landwyd waarin daar opleiding aan predikante, kontemporêre sangleiers en begeleiers en orreliste oor hierdie onderwerpe gegee sal word.
Kontak:
Ds Jacques Louw
082 487 7061
Jacques.louw@absamail.co.za
PREDIKING
Kontak:
Dr Deon Bester
083 228 5408
deonbes@mweb.co.za
021 919 6511, 083 457 1647
|