Erediens & Liturgie

Wanneer ons nadink oor die rol wat die erediens speel in die geloofsvorming van erediensgangers, is dit goed om te begin met die basiese aard en wese van die erediens. Dit word eenvoudig en helder uitgedruk in die Handleiding vir die Erediens (p. 3–4) as volg:

Die erediens is die sentrale gebeurtenis in die voortgaande lewe van ’n Christelike gemeente. In die erediens gaan dit immers oor die ontmoeting tussen God en sy gemeente: God nader tot die gemeente en die gemeente nader tot God. In hierdie ontmoeting neem God die inisiatief. Hy roep sy gemeente om uit die normale gang van die lewe terug te tree; Hy bring hulle saam met die oog daarop om hulle geloof op te bou en te versterk; en Hy stuur hulle terug na die gewone gang van die lewe om tot sy eer te lewe. God se inisiatief word beantwoord deur die reaksie van die gemeente: hulle tree bewustelik terug uit die gewone gang van die lewe; in die ontmoetingsgebeure van die erediens word daar by hulle ’n nuwe perspektief op die lewe gevorm; en dan tree hulle weer toe tot die volheid van die lewe.

Hieruit is dit duidelik dat die erediens in wese missionaal van aard is. God roep sy gemeente bymekaar, rus hulle toe, en stuur hulle weer uit om lig vir die wêreld en sout van die aarde te wees (Matteus 5:13–16). In die proses word die erediensganger se geloof gevorm. Deur week na week geroep te word om saam met geloofsgenote in die teenwoordigheid van God te verkeer en week na week weer uitgestuur te word, word gelowige erediensgangers in hulle diepste wese missionaal gerig. Die doel van ʼn erediens is dus nie soseer informasie nie, maar formasie en veral transformasie.

Hierdie siening van die aard en wese van die erediens het implikasies vir die rol wat die erediens in gemeentes speel en hoe dit ingerig behoort te word. Hoe geloofsvorming in die erediens kan plaasvind en hoe die erediens dienooreenkomstig in die praktyk ingerig kan en/of behoort te word, is die vraag waarop hierdie verslag fokus.

Verslag Algemene Sinode 2015

Dr Freddie Schoeman (Sameroeper) (Oostelike)
Ds Marie Brits (Wes-Kaapland)
Ds Wikus Wait (Oos-Kaap)
Ds Johan Conradie (Noord-Kaap)
Ds Gideon Lamprecht (Vrystaat)
Ds Tertius Naudé (KZN)
Ds Alewyn Burger (Goudland)
Ds Dieter de Bruyn (Noordelike)
Dr André Bartlet (Hoëveld)
Ds Fourie van den Bergh (Namibië)
FLAM – ds Faani Engelbrecht
VONKK – ds Jacques Louw