» Hoëveld Sinode :: Tuisblad
ROADSHOW IN PLAAS VAN 'N JEUGSINODE VIR 2008!
Kruisbande, Hoëveld Sinode se Ontwerpspan vir Jeugbediening, voel dat dit wat by die Jeugsinode gebeur ook op 'n ander wyse na gemeentes geneem moet word behalwe deur die jeug en jeugleiers self.



Die eerste Roadshow sal in dieselfde tydsgleuf as die jaarlikse Jeugsinode gehou word en wel op 1 en 2 Augustus 2008 by Alberton-Suid Gemeente. Die Roadshow sal dus nie die hele naweek duur nie. Kom ons sê die Jeugsinode word op 'n toer na gemeentes gevat en die eerste stop is Alberton.



Vrydagaand gaan daar 'n tienerfees met die 'band' Varsfontein wees. Dit is dieselfde 'band' wat die afgelope paar jaar by die Jeugsinode opgetree het.



Saterdag-oggend sal daar 'n ontbyt vir alle jeugleiers aangebied word. Ons is opgewonde oor ons eerste kinderbyeenkoms op Sinodale vlak wat op die Saterdag, 2 Augustus aangebied gaan word. Hierdie pret-oggend is vir alle laerskool kinders.



Jeugleiers gaan ook geleentheid kry om oor hul werk in die gemeentes te gesels. Toerusting gaan vir hulle aangebied word en die idee is om by die geleentheid 'n soort netwerk te skep sodat beter samewerking in Hoëveld Sinode tussen gemeentes op die vlak van jeugbediening kan ontwikkel.



Daar moet beslis 'n verbintenis met mekaar aangaan word hoe die pad van jeugbediening vorentoe aangepak kan word. Vele hande, ligte werk is die gedagte agter dié idee.



Die program gaan verder uit sportaktiwiteite, saam kuier en eet, m.a.w. Fellowship, Faith, Friends, Fun en Food bestaan. Die idee is om so bietjie woema vir die jeug en jeugleiers se wiele te sit om met nuwe moed hierdie nogal moeilike bediening in gemeentes voort te sit.



Dit is baie belangrik dat ons na mekaar sal luister en by mekaar sal leer. Dit beteken dat ons ook 'n oor vir mekaar se bedieningsprobleme sal hê.



Kruisbande kom dus nie met 'n Roadshow na Alberton en sê: 'So-maak-mens' nie. Daar bestaan nie 'n bloudruk vir jeugbediening nie, maar by so 'n geleentheid kan onsettend baie onder die leiding van die Heilige Gees gebeur waarby almal kan baat.



Dis 'n geleentheid om afsydigheid of geïsoleerheid tussen gemeentes te breek en samewerking te ontwikkel. Elke gemeente het sy eie identiteit en kan dus nie maar net kopieer wat by 'n Roadshow aangebied word nie.



'n Roadshow is 'n versamelpunt van verskeie insette uit verskillende oorde.



Dit is 'n plek waar al die verskillende gawes en talente met mekaar gedeel word en 'n bestuiwing kan plaasvind om nuwe vrug in die jeugbedieningsakker na vore te bring.



Die uitnodiging word gerig aan almal binne en buite die NG Kerkverband.



Die persoon om te kontak vir spesifieke reëlings is ds. Jaques en sy vrou, Karin Grobler van NG Alberton-Suid by 011-864-2552, 082-299-3118 en jaques@groblers.co.za.



Kruisbande het 'n doel vir hulself opgestel wat die volgende behels:



NAVORSING: Lees en bespreking van mees resente boeke oor jeugwerk.



NETWERK: Navraag by gemeentes oor jeugbediening word gedoen – wat werk en wat werk nie, probleemareas word ondersoek, beskikbare bronne word vasgestel en ontleding daarvan word gedoen.



BEMARKING: Die inligting wat by navorsing en netwerk bekom word, word dan aan gemeentes beskikbaar gestel byvoorbeeld deur middel van Kruis en Dwars en Jonk (nuwe webwerf vir jeugbediening).



VISIOENERING: Die inligting wat deur navorsing en netwerk bekom word, word verder ook op 'n praktiese wyse aan gemeentes deurgegee soos by Roadshows. Met ander woorde die inligting word op 'n visuele en ervaarbare wyse aangebied.



OPLEIDING: Al hierdie inligting sal ook deur middel van werkswinkels op sinodale vlak en op nasionale vlak by 'n “Youth Worker’s Convention” vir jeugwerkers aangebied word. Eersgenoemde moet eers goed op dreef wees voor ons by laasgenoemde kan uitkom.



'WOW EVENTS': Behalwe die Roadshow wat jeugwerkers en die jeug insluit, word daar ook ander geleenthede vir die jeug aangebied soos verwisselingskampe, avontuurkampe, skoolverlaterskampe en seekampe asook 'n jeugsinode.



MOBILISERING: Al die genoemde aktiwiteite is daarop ingestel om die jeug vir Jesus Christus te mobiliseer. Daarmee word bedoel dat hulle geloof ook in geloofshandelinge sal oorgaan (Jakobus 1:22-25; 2:14-26 – 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.



MUSIEK: Aangesien musiek en lofprysing vir jeugbediening en die kerk altyd belangrik sal wees, sal daar ook tydens byeenkomste hieraan aandag gegee word en die nuutste stof bekend gestel word.



Indien u meer inligting verlang, kan die volgende persone gekontak word:



Ds. Henri Meyer: 017-634-3751, 083-455-6940, henri@rondekerk.co.za



Dr. Dirkie de Wet: 011-913-4143, 072-844-8073, dirkiedewet@absamail.co.za


ABRAHAM KRIEL KINDERHUIS 100 JAAR OUD OP 30 JUNIE 2008
2008 merk 100 jaar sedert die Ford Model T of te wel die Tin Lizzy, sy verskyning op die motor front gemaak het. Die eerste 'selfoon' patent vier sy honderdste herdenking die jaar en by die Universiteit van Pretoria gradueer studente al vir 100 jaar lank. Een van Johannesburg se bekende landmerke, die Dieretuinmeer is ook 100 jaar oud hierdie jaar.



Vir ons by AKK is dit ook ’n spesiale jaar aangesien die Maria Kloppers Kampus saam met hierdie landmerke, uitvindsels en instansies wat die geskiedenis van die wêreld en Suid - Afrika verander het, die 100ste bestaansjaar vier.



Net soos hierdie dinge glo ons dat Maria Kloppers, die vrou agter hierdie huishoudelike naam, ’n merkwaardige bydrae tot die geskiedenis van ons land gemaak het. Met toewyding en harde werk het sy die lewens van duisende aangeraak en vir die beter verander.



Ter gedenking van 100 jaar van genade en die merkwaardige vrou agter hierdie huishoudelike naam is dit vir AKK ’n voorreg om jou uit te nooi na ons Noenmaal vir Inspirerende vroue op die 9de Augustus. Ons stel ook ’n boek op hierdie dag bekend, asook 'n stylvolle pewter borsspeld.



Behalwe vir die eeufeesvieringe by die Maria Kloppers kampus wil ons vir Zandile gelukwens wat verkies is as een van die hoofleiers van sy skool – baie geluk Zandile, ons is trots op jou!



Die Emdeni kampus spog met ’n splinter nuwe rekenaar sentrum en die swembad is verlede maand behoorlik ingewei.



Alles gaan goed op die Langlaagte kampus en ons wil graag net een van ons dogters wat haar bestuurslisensie gekry het gelukwens.



Aknee is ’n nagmerrie vir enige tiener – vier van ons kinders op die Langlaagte kampus het ’n dringende behoefte aan mediese behandeling in die verband. Indien jy kan help kontak ons gerus by info@abrahamkriel.org.



Julle, ons donateurs, is baie belangrik vir ons en daarom wil ons graag dankie sê en erkenning aan julle gee vir die verskil wat julle in ons kinders se lewens maak. Ons wil graag ’n blad op ons webtuiste aan julle toewy. Op hierdie bladsy beplan ons klikbare logo’s van al ons donateurs. So stuur asseblief jul hoë resolusie logo’s en URL’s na info@abrahamkriel.org. voor of op die 30ste Junie 2008.




100 jaar is ’n seën, en ons is dankbaar. Vier saam met ons 100 jaar van Genade.




Kinderhuisgroete



Michelle Hauptfleisch



Abraham Kriel Childcare / Kindersorg



:: Kruis & Dwars ::
»  GELEENTHEID OM UIT TE REIK NA 8 SEUNS – YOUTH SPACE SATTELIETHUIS
»  VOORBEREIDING VIR DIE SINODESITTING: WAAR IS ONS?
»  NUWE PERSONEEL AANSTELLINGS BY SKDB
»  KERKHERENIGING - KONSULTASIEGESPREKKE MET GEMEENTES
»  Jeugsinode 2007 - VOORSTELLE IN ALFABETIESE VOLGORDE


:: Op die kalender ::
Daar is geen inskrywings vir Januarie gelys nie. Kliek hier vir ander dagboekinskrywings.


Gemeente E-pos
Elke gemeente het een unieke e-pos adres. Indien jou gemeente nog nie hul inteken inligting ontvang het, kontak ons.

Om jou gemeente e-pos aanlyn te sien, gebruik onderstaande vorm om in te teken.
  
Gebruikersnaam:
Wagwoord:
  
© 2006 Nederduitse Gereformeerde Kerk. Alle regte voorbehou
Webtuiste ontwikkel deur en geïnkorporeer deur