Tuisblad
Webbladkaart / Site Map

NUUS

Algemene Nuus
 
Verhouding tussen Kerk en Wetenskap

27 Julie 2010

PERSVRYSTELLING: KERK EN WETENSKAP

Na aanleiding van mediaberigte en internet-gesprekke, waaraan die verhouding tussen die kerk en wetenskap onderliggend is (en waarby Prof Piet Strauss betrek word) wil die Algemene Sinode se Moderamen (dagbestuur van die sinode) graag die jongste standpunt van hierdie vergadering oor hierdie saak, soos wat dit in Junie 2009 geneem het, stel:

“Die  vraag  oor  die  aard  van  die  verhouding  tussen  kerk  en  wetenskap  speel  van  tyd  tot  tyd onderliggend 'n bepalende rol in die lewens van ons lidmate, waar hulle hulself ook al bevind in die  diverse  sektore  van  ons  samelewing.    Dit  is  dan  dat  standpunte  en  argumente  oor onderwerpe soos die evolusie (teorieë oor die ontstaan van die mens), die oerknal (teorieë oor die  ontstaan  van die  skepping),  en  ander  sake  soos die invloed  van  gebed  op  (byvoorbeeld) reën, klimaatsverandering en dies meer, dikwels tot onverkwiklike gesprekke lei.

 Dit lê ten grondslag van die Gereformeerde tradisie dat onderrig en opvoeding, ook ten opsigte van die volle spektrum van die multidissiplinêre wetenskap, deel is van die kerk se roeping om sy  lidmate te  begelei tot verwondering oor die God van hierdie  skepping/heelal, soos wat ons dan ook gereeld gelowig oor Hom bely.
 
Alhoewel dit anders is as God se openbaarmaking deur Jesus Christus, is sy skepping ook 'n
bepaalde openbaarmaking van die  misterie en wonder van God self.    Die onvermoeide wyse waarop die kerk dan ook in sy geskiedenis die inisiatief geneem het tot die oprigting van skole en ander opvoedkundige inrigtings, is prakties tekenend van hierdie wedersydse respek tussen geloof en kennis.

As sodanig ondersteun of onderskryf die kerk nie noodwendig bepaalde wetenskaplike teorieë nie – is hy trouens nie bevoeg om daaroor enige gesaghebbende uitspraak te maak nie. Ons beskou dan ook nie die Bybel as 'n handboek wat vir ons allerlei wetenskaplike uitsprake maak wat buite hierdie bundel geskrifte se historiese konteks lê nie.  Juis omdat ons respek het vir die teks van die Bybelse geskrifte, het ons respek vir die historiese konteks waarin hulle ontstaan het.

Wat  die  kerk  wel  ondersteun  en  bely,  is  'n  bepaalde  geloofsuitspraak,  naamlik  dat  God  die Skepper  van  hemel  en  aarde  (heelal/veelal)  is.    Wat  is,  het  nie  maar  toevallig  en  spontaan gebeur nie. Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel  en  funksioneer,  kan  ons  as  gelowiges  ons  net  verwonder,  veral  namate  die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou.

Dit  is  daarom  jammer dat daar  dikwels  vanuit  beide die  kerklike,  sowel  as  die  wetenskaplike kontekste, uitsprake gemaak word wat dui op 'n onverkwiklike stryd tussen kerk en wetenskap, asof beide nie bepaalde uitdrukkings kan wees van God se onbeskryflike grootheid en mag nie. 

Die NG Kerk sal graag vanuit hierdie perspektief wil deel wees van die gesprek tussen kerk en wetenskap – en  ons daardeur  laat  begelei  in  die  hantering  en beoordeling  van  sake  wat  met hierdie verhouding verband hou.”

Hierdie  verklaring  word  ook deur  die  kerk  se  elektroniese  kommunikasie-netwerk  aan  alle predikante en kerkkantore gestuur.

Dr JJ Gerber
Algemene Sekretaris van die NG Kerk

 
Nuusbriewe
ePosduif
Familienuus
Die Feldmuis sê...
Kruis en Dwars
Noord-Kaap Nuus
OosKaap eNuus
Verskil
VrydagNuus
Vrypos
Wesvonk
 
Koerant
 
Tydskrif
 
Kalender

<< Terug na Nuus



[Tuisblad] [Nuus] [So lyk ons] [Sinodes] [Predikante] [Gemeentes] [Standpunte] [Diversiteitsforum]