My gunstelingboek oor leierskap is dié van die kerkleier Bill Easum – Leadership on the other side: No rules, just clues (2002.
Hy sê : "Everyone perceives reality through their Life Metaphors... Life Metaphors construct reality for us rather than simply organize it. They create the world we inhabit rather than simply describe it. When our Life Metaphors change, we change."
Ons taal is tekenend van ons verstaan van die werklikheid. Thomas Hine sê tereg: "When metaphors change, it usually means that reality has done so already."
Daarom luister ek graag na die kerklike taal van mense wanneer ek iewers leierskaptoerusting doen. Dit vertel gou of kerklike beheer hoogty vier en of die koninkryk van God veld wen.
Wanneer mense wat mekaar jare lank ken mekaar tydens kerklike vergaderings as "u" aanspreek, kan jy ook kommissies en dik verslae iewers te wagte wees. In sulke omgewings is ek nooit verbaas nie om te sien kommissies begroot die hoeveelste keer vir 'n kerklike geldelike verlies. Of dat kerklike aksies eers "behoorlik" goedgekeur moet word deur mense wat nie self daarby betrokke is nie.
In sulke omstandighede wen teoretiese gesprekke oor geloof, nie die praktyk en waagmoed daarvan nie. Sodra ek in kerklike omgewings taal hoor wat te make het met "die pligte van 'n leraar" of "verslagdoening", dan kan ek my kop op 'n blok sit die plaaslike leraar word in sulke milieus as algemene geestelike praktisyn of geestelike skakelbeampte beskou wat almal ter wille moet wees. Daar werk leraars as betaalde amptenare van die kerkraad wat mense moet besoek, bedien en tevrede hou. G'n wonder nie ek loop ongelukkige, uitgebrande leraars in sulke omgewings raak. Tesame met taakgedrewe kerkrade waar 'n paar individue meen hulle moet oor almal "toesig hou".
Ook het ek agtergekom daardie immergroen kerklike woord "betrokkenheid" word gedurig opgevolg met uitdrukkings soos: "Ons mense is onbetrokke; "Hier by ons is geen geestelike groei of diepte nie," of "Hoe kry ons ooit ons lidmate betrokke?" Maak nie saak hoeveel keer jy aan hulle verduidelik kerkwees gaan nie oor die "drie goor g's" (getalle, geboue, geld) nie – alles word hieraan gemeet. In sulke omgewings hoor jy gedurig van "doodsheid", omdat mense nie "getrou inskakel" by uitgediende programme wat kunsmatig met kerklike aarvoeding aan die lewe gehou word nie.
Ons kerklike taal verraai ons onbeholpenheid om doeltreffend in die doodgewone lewe as burgers van God se koninkryk aanwesig te wees. Is dit dalk hoekom die kerknavorser George Barna bevind hoe langer mense in die kerk "betrokke" is, hoe minder oefen hulle enige impak in die samelewing uit?
Jesus gebruik nooit kerktaal nie. Terme soos "uitreike" of "evangelisasie" is nie eens op sy lippe nie, want Hy is lankal reeds daar! Jesus ken geen "ons-hulle"-wêreld nie. Sy koninkrykswêreld is nie dié van statiese monumente of godsdienstige instellings nie. Jesus se taal oor God se koninkryk speel in die lewe van elke dag af. Dit is subversief, sorgvry en bevrydend – vir benouende kerklikes, bedoel ek!
Die impak van Jesus se groepie koninkryksnavolgers wat sy taal agterna praat en leef, is altyd op die grondgebied van ander koninkryke te bespeur. Wanneer een liggie in die donker begin skyn, of as 'n bietjie suurdeeg in 'n bak meel beland, of as mosterdsaad tussen ander plante begin groei, dán eers sien jy die koninkryk van God in aksie. Die uitdaging is om weer die metafore van die koninkryk van God aan te leer.
Wanneer ons opnuut die koninkrykstaal van Jesus baasraak – wat te make het met spontane groei, daarwees, liefde en waagmoed binne God se ryk – dan gaan ons koppe, harte, lippe, vingers en voetsole dit begin glo en begin agterna doen.
Stephan Joubert
Grondhervorming en "struggle"-liedere
Bron:
Volksblad - Briewekolom - 9 April 2010
Die NG Kerk en spesifiek die taakontwikkeling volg die huidige verwikkelinge rakende grondhervorming asook die polemiek oor opruiende "struggle"-liedere met groot aandag en besorgdheid.
Ons is bekommerd oor die groeiende onsekerheid en verwarring wat die teenstrydige uitsprake deur senior regeringsverteenwoordigers oor grondhervorming en moontlike nasionalisering, soos in die media berig, in landbou-geledere bring. 'n Beleid van radikale grondhervorming, waarvolgens produktiewe landbou-grond op groot skaal herverdeel word, sal 'n uiters negatiewe effek hê op voedselsekerheid, uitvoerverdienste asook die werkgeleenthede van duisende plaasmense. Dit is glashelder duidelik, gesien in die lig van die boerdery-mislukkings op grondhervormingsplase tot dusver.
Dit gaan natuurlik nie net oor landbougrond nie, maar ook oor eiendomsreg as sodanig. Die grondliggende waarde van die grondwet kom met hierdie soort uitsprake ernstig in die gedrang. Die NG Kerk het die afgelope tyd op verskillende maniere by die regering daarop aangedring om die onsekerheid ten opsigte van grondbesit en grondhervorming so spoedig moontlik op te klaar. Geen reaksie is ontvang nie.
Dit sal wys wees as die regering, soos onlangs in die vooruitsig gestel, die georganiseerde landbou en plaaslike boerderygemeenskappe meer effektief betrek as bondgenoot by die hele proses van grondhervorming. 'n Welvarende landbou-gemeenskap, wat suksesvolle nuweboer-vestiging en goeie onderlinge verhoudinge insluit, is in almal se belang.
Die ANC se goedkeurende houding ten opsigte van liedere soos "Kill the boer, kill the farmer!" het 'n geweldige negatiewe impak op ons land en in die besonder die boerderygemeenskap. Die ANC is besig om met hulle houding hieroor onmeetlike skade aan te rig.
Die NG Kerk is positief verbind tot 'n konstruktiewe opbou van ons land om aan elkeen 'n toekoms van vrede en hoop te verseker – ook ten opsigte van grond, eiendomsreg en die landbou. Hierdie Taakspan wil in die volgende maande daadwerklik in dié verband optree.
Dr Thys Smith NG Kerk-taakspan: grondhervorming en landelike ontwikkeling