| GOEDGEKEURDE PRIORITEITE VAN DIE MODERATUUR * Gebed en aanbidding, wat sang en musiek insluit * Die konkretisering van Belhar met 'n fokus op die meewerk aan 'n konkrete, werkbare model vir eenheid en restitusie * Armoede * Die bemagtiging van lidmate * Die rol wat plattelandse gemeentes kan speel om te help bou aan ’n nuwe versoende samelewing * Ons jeug * Evangelisasie Oor Gebed:
Gebed en aanbidding is een van die hooffokusareas van die moderatuur. Intussen het `n gebedsnetwerk tot stand gekom met verteenwoordigers in 80% van gemeentes in die sinodale gebied. Hulle ontvang gereeld per e-pos gebedsbriewe uit die moderatuur. Persone wat belangstel om deel te word van die gebedsnetwerk kan `n skrywe rig aan skriba@kaapkerk.co.za.
Eenheid en restitusie:
Restitusie is een van die belangrike kwessies waarmee die kerk nou behoort te worstel en ons sal die gesprek nie kan vermy nie. Ons sinode se aanvaarding van die Belydenis van Belhar kan en mag nie maar net ’n leë gebaar wees nie. Dit het voetsool-implikasies. Een hiervan is dat die Bybelse opdrag om geregtigheid ons dwing om die ontsaglike ongelykhede wat steeds in ons samelewing bestaan, aan te spreek. Ons meen dat dit ’n Bybelse en teologiese imperatief is wat reeds uit die OT na ons kom, naamlik dat God ’n God is wat graag wanbalanse in sy skepping herstel. Wanneer die boonste 10% van ons bevolking amper 75% van die inkomste ontvang en die onderste 10% minder as 5%, is iets nie reg nie. Daar is by ons geen twyfel nie dat ons as groep, ’n bevoorregte groep is wat aanspreeklik is om mee te werk aan die herstel van hierdie wanbalanse wat oor tyd in ons land ontstaan het. Dit is van die uiterste belang dat ons as kerk met groot nederigheid, as verloste volgelinge wat met die vergifnis van Jesus Christus leef, in groot dankbaarheid by hierdie gesprekke en prosesse betrokke bly. Restitusie is in kerklike terme nie in die eerste plek ’n politieke kwessie wat op ’n eksakte wyse met wiskundige formules en/of bedrae besleg kan word nie. Dit is ’n diep geestelike saak en bo alles ’n verhoudingskwessie. Wanneer Saggeüs, die tollenaar, voor Christus buig, onderneem hy om vier keer dit terug te gee wat hy op onregmatige wyse van ander geneem het. Dit maak geen ekonomiese en/of juridiese sin nie, maar hy doen dit, omdat daar iets met sy hart gebeur het.
Die dilemma waarmee ons tans sit, is dat die gesprek gekaap word deur opportuniste soos Julius Malema. Dit help niemand nie. Ons sal by die gesprek betrokke moet bly. Restitusie gaan oor meer as geld en grond Restitusie gaan oor geld en grond, maar oor veel meer as dit. Dit moet gaan oor die herstel van verhoudinge. Dit gaan oor die herstel van menswaardigheid en die teruggee van respek en daarom ook oor dinge so konkreet soos opvoeding en onderwys en die bemagtiging van mense deur die oordrag van vaardighede. Dit gaan oor mentorskap en die bou van deelgenootskappe. Hieraan sal ons ook graag wil meewerk. Welvaartsbelasting Dit is met groot begrip dat kennis geneem word van emeritus-aartsbiskop Tutu se uitsprake. Hy was immers nog altyd iemand wat as brugbouer opgetree het en in baie opsigte `n konsekwente profeet in hierdie verband was. Sy opmerkings moet waarskynlik ook gesien word teen `n groeiende onrus wat daar by hom bestaan oor die verhoogde polarisasie in ons gemeenskap en die soeke na `n tasbare, sigbare en betekenisvolle gebaar wat kan help om die spanning te ontlont. Ons oordeel egter dat (`n verdere) welvaartsbelasting nou met baie negatiewe reaksie begroet gaan word. Mense voel dat hulle reeds oorbelas is en dat die belastinggeld nie korrek aangewend word nie en in baie opsigte vermors word. Die volgende voorstel word egter wel gemaak: Dat `n Restitusie Trust/Fonds begin word waartoe mense vrywilliglik kan bydra. Uiteraard sal die trust/fonds onderworpe wees aan behoorlike, deursigtige ouditering en verteenwoordigende bestuur. Ons meen dat die ekumeniese kerk daarby betrokke moet wees. Ons verstaan dat hierdie bydraes waarskynlik nie (soos in die geval van bv. skenkings aan universiteite), van belasting aftrekbaar sal wees nie, maar dink dit sal die saak dien as SAID/SARS wel deur middel van `n sertifikaat erkenning aan hierdie skenkings gee. Die kerk sou selfs ’n spesiale versoek aan die rykstes van die rykes kon rig om wel tot hierdie fonds by te dra. Dit sluit alle rassegroepe in. Hierdie fonds kan aangewend word om bestaande pogings en projekte, wat gemik is op die uitwissing van agterstande, te ondersteun. Met kundige kapasiteit wat daar binne die kerk is, kan nuwe projekte ook geloods word wat herstellende geregtigheid in die hand kan werk. Ons dink hier veral aan projekte wat sal fokus op die skep van gelyke geleenthede en die bou van verhoudings en kapasiteit binne ‘n nuwe jong geslag. Dit bly egter van kardinale belang dat die fonds ook sal fokus op die herstel van verhoudinge. Hierdie voorstel moet nie as ’n finale voorstel gesien word nie, maar as bydrae tot die gesprek wat beslis sal voortgaan. Intussen het daar ook reeds ander voorstelle op die tafel gekom, soos byvoorbeeld dat maatskappye / indiwidue versoek word om na vermoë ’n bydrae tot restitusie te maak deur op pro rata basis ’n aantal werksgeleenthede te skep. Dan is elke indiwidu/instelling self verantwoordelik vir die geld wat bestee word en word dit direk aangewend vir die skep van geleenthede. Maar soos gesê, die gesprek gaan voort. Verdere gesprekke Die opdrag sal ook aan SKLAS gegee word om verder oor die bogenoemde saak te besin met terugvoering aan die moderamen. Na alle waarskynlikheid sal die kwessie ook in 2012 dan verder deur die moderamen bespreek word. Intussen versoek ons graag gemeentes om saam met ons oor hierdie saak te besin en te bid. Mag die Here ons, soos telkemale in die verlede, ook hier met groot genade en wysheid bedien.
Oktober 2011 Vir enige verdere navrae, kontak gerus kommunikasie@kaapkerk.co.za |